Nuusblad

Wendy werk hard om stories te bewaar!

“Goeie stories, ‘n liefde vir lees en kanonisering: En waar word die waarde van stories bepaal? Nêrens anders as in die groot literêre kanons nie. Dié drie aspekte van kinderboeke en stories is integraal verbind tot ‘n kind se funksionering in sy of haar wêreld – ‘n algemeen aanvaarde afleiding van die waarde van letterkunde. Tog word hierdie waarde nie vrymoedig genoeg aan kinderboeke toegeken nie. Daarom is storieboeke soos Storiekaros, Sylvester, Ramkat van die Groot-Karoo en nog 21 lekkerlees legendes, ware verhale en staaltjies, Helde van Suid-Afrika 1, 2, 3 en Stories van die see deur Wendy Maartens belangrik.”

~Anke Theron, LitNet~

Lees die volledige resensie hier: Storiekaros deur Wendy Maartens, goeie stories om te kan lees

Meer oor Storiekaros

Storiekaros

Hierdie vrolike bundel stories, rympies en speletjies is ‘n kleurvolle reis saam met immergewilde karakters soos Lena, wat haar eie Kersboom in die tuin maak, Benjamin en sy viool, Tyl Uilspieël met al sy streke, en Jakkals en Wolf se manewales.

Skaterlag saam oor tergrympies, leer tel met uittelrympies en speel weer lekker buite soos in die ou dae met bekende speletjies soos Klippiegooi, Wolf, Wolf, hoe laat is dit? en Koljander, Koljander.

Leer ‘n kleinding ook speel-speel waardevolle lewenslesse soos hoe om nie kwaad te word nie en wat goeie maniere is. En maak slaaptyd ekstra spesiaal met slaaptydrympies en mooi-droom-stories.

Ook beskikbaar as e-boek.

Illustrasies deur Megan Bird

Lapa Uitgewers, 2020