Wendy Maartens vertaal Bollie-boeke
Nuusblad

Wendy vertaal Bollie-aktiwiteitsboeke uit Nederlands

Goeie nuus! Bollie Konyn en sy vrolike familie is met mening terug om Afrikaanse kinders te leer lees, skryf en wiskunde doen.

Wendy is die gelukkige persoon wat Bollie uit Nederlands vertaal. Sy het aan Elna van der Merwe van Huisgenoot gesê:

“Ek is koorsig van opgewondenheid oor hierdie drie aktiwiteitsboeke waarmee Bollie ná soveel jaar weer die Suid-Afrikaanse mark betree. En uit my vel omdat ek deel daarvan kan wees. Ek het in 1970 in my sub A-jaar danksy Bollie leer lees. Diep in my hart was daar nog altyd ‘n versugting om op een of ander manier by Bollie in Afrikaans betrokke te wees. Ek sou nooit kon droom dat dit my voorreg sou wees om Bollie uit Nederlands te vertaal nie!

Die boeke is 100% gehalte, kleurvol en bekostigbaar en die drukwerk, kleure en bowenal die inhoud is werklik besonders. Die boeke is spesifiek gerig op die leemtes wat tans ten opsigte van wiskunde, lees, en begrip ervaar word. Die groot lekkerte is dat dit met behulp van temas gedoen word wat tot kleuters en beginnerlesers spreek.

As oudonderwysere is ek hoogs ingenome met die weldeurdagtheid van elke taak – die sistematiese leerproses waardeur ‘n kind gelei word om te leer tel, die alfabet, lettervorms en die nodige woordeskat aan te leer. Lapa Uitgewers het seker gemaak dat elke opdrag in lyn is met die onderwysdepartement se voorskrifte. Dis deur ‘n span bekwame onderwyseresse gefynkam. Eers toe hulle heeltemal tevrede was, is die drie lywige boeke drukpers toe. Ek is vas oortuig Bollie gaan ‘n hele nuwe generasie lesertjies bemagtig.”

Klik hier vir ‘n volledige artikel oor Bollie in die herfsuitgawe van Taalgenoot.

Lees meer oor die Bollie-boeke – klik gerus hieronder.

Bollie Alfabet- en dieretekenboek - Vertaal deur Wendy Maartens
Bollie Getalle en babadiere - vertaal deur Wendy Maartens
Bollie Somervakansie - vertaal deur Wendy Maartens