Die afgelope naweek is ek terug na Outeniqualand waar ek matriek geskryf het om ‘n eretoekenning te ontvang. Ek het vir die eerste keer in vier dekades weer deur die hek gestap waar ek as matriekmeisie in ‘n geel skoolrok en grys kniekouse uitgestap het.
Ek was skrikkerig, want ek leef in my kop en ek leef intens. Hoe sou dit voel om weer in dieselfde ruimte te vertoef? Tussen dieselfde mure te staan. Oor dieselfde vloerplanke te stap. Deur dieselfde vensters te kyk.
Maar ek het vergeet – outeniqua beteken “met heuning belaai”. En dis wat hierdie naweek met my gebeur het.
Ek is deur lieflike personeel (dankie aan veral Chris Hattingh en Retha Smith), asook sprankelende leerders en oud-Kwaggas omarm. Die gebou het haar vlerke soos ‘n moederhen vir my oopgemaak. En ek kon die vreugde ervaar van meer as een sirkel wat voltooi word.
Tydens my bedankingstoespraak het ek wyle Tommy Ross, my formidabele Afrikaanse onderwyser van destyds, bedank. Min wetende dat prof. Victor Ross, wat ook ‘n toekenning ontvang het, sy seun is.
Dit het agterna vir my baie beteken om met hom te gesels. My geliefde onnie se mannerismes na soveel jaar weer lewend te kon sien – in sy seun.
Ek is terug in Kleinmond met ‘n dankbare hart.
Seën aan almal in Kwaggaland!