Ek is einde April geseën met twee topverkopers op Graffiti se Top 10-lys: My hart is oppi plaas! en Die wandelende geraamte en ander spookstories van C. J. Langenhoven. Baie dankie aan elkeen wat ‘n boek koop en so die brood in my blik hou en die wind onder my vlerke. Baie dankie ook aan Leonie van Rensburg en haar span vir hul harde werk – altyd met ‘n glimlag!  Â
My hart is oppi plaas! idioom- & gesegde-inkleurboek
Hierdie vrolike inkleurboek bevat 22 eg-Afrikaanse idiome en gesegdes, elk met interessante feite oor plaasdiere en volg op die gewilde ROOIMIERE-IN-DIE-BROEK-IDIOOM-INKLEURBOEK!
Maak die potlode skerp. Skiet daai doppies van die merkpenne af. Lê op ‘n baal, sit agterstevoor op ‘n trekker, klim op na die solder in die skuur, of gooi ‘n kombersie oop onder ‘n boom. Die tyd het aangebreek. Kom ons kleur in!
Illustreerder: Linki Brand
Lapa, 2022
Die wandelende geraamte en ander spookstories van C.J. Langenhoven
“Ek was mal oor spoke.
Eintlik was ek ‘n soort spookwetenskaplike.
Oral waar ek gekom het, het ek spookstories bymekaar gemaak.
En nou is ek self ‘n spook … kan ‘n mens so gelukkig wees?”
~ C.J. Langenhoven
Hierdie bundel met 15 spookstories het ontstaan na aanleiding van ‘n gesoute bibliotekaresse se vreugde oor kinders wat ‘n ou hardebandbundel met Langenhoven se spookstories uit die grootmens-afdeling smokkel om in die kinderafdeling voos te lees… Die spookverhale is versigtig uitgekies en hervertel om by die oorspronklike teks aan te sluit, en terselfdertyd ook tot die kind van vandag te spreek.
In die voorwoord vertel Wendy van haar eie wedervaringe tydens die herskryf van die stories.
Daar is ook praktiese wenke vir ouers en onderwysers.
Marjorie van Heerden se illustrasies dra by tot ‘n onvergeetlike ervaring!
Illustreerder: Marjorie van Heerden
Protea, 2022