Die afgelope paar dae was ek soos plaasmuis wat stad toe is. Maandagoggend het die wekker 03:45 gelui. Ek het eers behoorlik wakker geword toe Nadine Petrick van Penguin Random House SA met ons teen Sir Lowryspas afgaan.
Ná ‘n wegneemkoffie kon ek helder begin dink. Drie vol dae waaraan daar lank en wyd deur baie mense beplan is, het voorgelê: Agt skoolbesoeke, ‘n optrede en twee funksies in die Kunstekaap. En die lekkerte om weer met kollegas, bibliotekarisse en onderwysers te kuier wat van ver gekom het om ook aan die Suidoosterfees vir skole deel te neem.
Om weer van aangesig tot aangesig met die kreatiewe span te kuier wat Sankind lees die Wind moontlik gemaak het, was spesiaal. En om vir Nandi Lessing-Venter, Sankind lees die Wind se ander ‘boekma’, in die vleuels te hê voordat ek op die verhoog gestap het.
Beide van ons het van die begin af besef ons stap op heilige grond. Toe ek buk om my skoene op die verhoog uit te trek uit respek teenoor die eerste bewoners van ons land, het ek so ‘n groot knop in my keel gehad dat ek daarna skaars kon praat. Maar die skare kinders voor my se byna tasbare energie het my opgetel, regop gehou en my gehelp om my woorde netjies te string.
Noudat ek terugkyk, besef ek ons was almal vir daardie rukkie in die holte van ‘n groot, genadige, liefdevolle Hand.
Sankind Lees Die Wind
Ontdek die wonderlike wêreld van die Sanmense in hierdie asemrowende bundel kortverhale.
Wendy Maartens leer jou van die skerp wysheid wat skuil in die dans van die Kwagga en die fluister van die wind. Neem ‘n reis na ‘n tyd toe die diere nog kon praat en die mense ‘n besondere verhouding met die natuur gehad het. Dwaal saam met diere en mense in ‘n tyd waar elke ding ‘n betekenis het, en waar die verbintenis met die natuur die grootste skat is.
Hierdie stories is nie net oor die diere nie, maar oor die erfenis en kultuur van die Sanmense wat die hart van hierdie unieke boek vorm.
Kom ontdek die geheime van mitologie, volksverhale en die ou Sangeskiedenis.
Illustrasies: Dedré Fouquet
Lapa, 2024