Vrydag, 5 Mei, het ek na Heartland’s in Somerset-Wes teruggekeer waar ek lank gelede vrywillige werk gedoen het.
Hierdie keer was dit as deel van die grootste kinderboekfees in Afrika wat gehou word ten bate van die babas wat daar versorg word.
Elke keer wanneer ek voor ‘n gehoor staan, besef ek boeke en stories is niks sonder die boekliefhebbers wat dit koop, lees, en in hul harte koester nie.
Dankie aan elkeen van julle! ❤️
Donkie se lang pad dorp toe en 19 ander fantastiese fabels
Hierdie vrolike bundel bevat 20 fabelagtige diereverhale wat elkeen op ‘n unieke manier ‘n waardevolle lewenswysheid vir kinders insluit en wys hoe waardes in die alledaagse lewe toegepas kan word.
Donkie se lang pad dorp toe dra die boodskap oor dat ‘n mens nooit almal tevrede kan stel nie. “Vlermuis, Braambos en Seemeeu hou vergadering” dra by tot die idee dat mens nie net moet dink aan wat jy kort nie, maar dat jy moet waardeer wat jy het. “Muggie sien kans vir Leeu” bevat die wysheid dat niemand so sterk is dat hy nooit kan verloor nie. “Tor sit Arend op sy plek” gee weer moed dat daar altyd ‘n manier is om ‘n boelie op sy plek te sit, al is jy klein…
Hierdie is maar enkele voorbeelde uit hierdie bundel propvol gawe, skaam, vrolike, bang, kwaai en brawe diere. Waaroor wil Mevrou Krap spog? Wat is Olifant se geheim? Het Haas toe die boelies uitoorlê?
Moenie langer wag om uit te vind nie!
Illustrasies deur Shayna Olivier
Lapa, 2021
Jakkals & Wolf – Ses lekkerlag-stories van twee geliefde skarminkels!
Afrikaanse kinders word al geslagte lank vermaak deur die skelmstreke van Jakkals en Wolf.
Jakkals probeer Wolf om elke hoek en draai ‘n streep trek, tog is hulle beste maats.
Beleef die opwindende avonture van hierdie twee geliefde skarminkels opnuut en lag saam oor dié twee se skreeusnaakse avonture.
Illustreerder: Gerda Smit
Lapa Uitgewers, 2023