Gisteroggend was dit vroeg uit die vere om saam met Nadine Petrick van Penguin Random House SA oor Sankind lees die Wind by die SA Festival of Children’s Literature te praat.
Dit was my heel eerste besoek aan die boomryke UWK-kampus. Ek het uit die staanspoor welkom gevoel. Die roete na die Opvoedkunde Fakulteit is op ‘n mooi, ouwêreldse manier aangedui deur studente wat op strategiese plekke met A4’s gestaan het.
Boeke en stories bring mense bymekaar en verbind hulle met ‘n onsigbare koord. Dis ‘n besondere ervaring om te sien hoe ontvanklik ons (wat onsself so maklik met tegnologie en ‘n vinnige lewenswyse kan verrinneweer) is wanneer daar oor die tradisionele San se veldlewe gepraat word.
Ná elke aanbieding het ‘n lektor die kitaar opgetel en is daar eers gesing. Ek het nooit gedink dat die gehoor ná ons Afrikaanse gesprek sou lostrek met Jan Pierewiet nie!
Hierdie gebaar het my diep geraak. Ek dra dit diep in my hart. En ek besef weer eens: oustories dra die energie van al die generasies oor wie se lippe dit eens gekom het. Ons mag wonderwerke te wagte wees wanneer ons dit deel.




Sankind Lees Die Wind
Ontdek die wonderlike wêreld van die Sanmense in hierdie asemrowende bundel kortverhale.
Wendy Maartens leer jou van die skerp wysheid wat skuil in die dans van die Kwagga en die fluister van die wind. Neem ‘n reis na ‘n tyd toe die diere nog kon praat en die mense ‘n besondere verhouding met die natuur gehad het. Dwaal saam met diere en mense in ‘n tyd waar elke ding ‘n betekenis het, en waar die verbintenis met die natuur die grootste skat is.
Hierdie stories is nie net oor die diere nie, maar oor die erfenis en kultuur van die Sanmense wat die hart van hierdie unieke boek vorm.
Kom ontdek die geheime van mitologie, volksverhale en die ou Sangeskiedenis.
Illustrasies: Dedré Fouquet
Lapa, 2024