Showing 41–50 of 50 results

Wys meer opsies

Helde van Suid-Afrika – Boek 2

Die bundel vertel die verhale van:

• Klara Majola wat haar blinde pa een ysige nag in die Koue Bokkeveld gaan soek het

• Richard Simelane, ‘n mynwerker, wat 18 van sy makkers ná ‘n rotsstorting met sy kaal hande uitgegrawe het

• Pieter Koen, wat met sy lewe betaal het om vyf van sy skoolmaats in die Westdene-busramp te red

• Hector Pieterson, wat deur die polisie doodgeskiet is op 16 Julie 1976, die dag wat as Jeugdag gehuldig word

• Sultan, die herdershond, wat kopgehou en sy baas uit die kake van die dood gered het

• John Ross, ‘n 12-jarige knaap, wat 1000 km deur die wildernis gestap het om medisyne vir sy siek vriende te gaan haal

“As jy daardie verhale vir jou kind gelees het, behoort hy ‘n goeie idee te hê van wie hy is en waar sy wortels lê.” – Wendy Maartens in Die Burger

 

Illustrasies deur Alex van Houwelingen

Lapa Uitgewers, 2018

Helde van Suid-Afrika – Boek 1

Ontmoet ses van die dapperste helde van Suid-Afrika. Van oudpresident Nelson Mandela wat ons reënboognasie na vryheid gelei het tot dapper Wolraad Woltemade wat matrose op ‘n sinkende skip gered het.

Asook:

  • ‘n Perd van ‘n ander kleur
  • Die matriekheld van Henley-on-Klip
  • Nkosi Johnson veg vir hoop
  • Japie Greyling swyg

 

Illustrasies deur Alex van Houwelingen

Lapa Uitgewers, 2018

Stories van die see

Stories van die see is ’n versameling seestories van regoor die wêreld – van “Hans en die gaatjie” in Haarlem tot die voëlnesplukkers Adhi en Sinta in die Ooste. Maar daar is ook heelwat plaaslike verhale oor die Birkenhead-bevel, “Die Vlieënde Hollander”, die Alibama, Wolraad Woltemade, die Gat-in-die-Muur by esiKhaleni waar die watermense jou kom haal, “Die spoke van Jutteneiland”, “Adamastor en die Kaap van Storms” en die skaapwagtertjie van Macassar wat Sjeg Joesoef se graf tussen die duine gevind het. Stories van die see bevat verwerkings van The Little Mermaid en die verhaal van Prinses Elisa en haar elf swane-broers, asook die Weskusboer Koos Malgas wat sy robvrou se vel gesteel het. En natuurlik kul Hasie vir Soutwaterkrokodil. Saam met die pragtige illustrasies van Marjorie van Heerden sal Stories van die see ’n klein lesertjie wegvoer na ’n magiese seestoriewêreld.

Hierdie publikasie is ook beskikbaar in Engels, Sea Stories.

 

Illustrasies deur Marjorie van Heerden

Protea Boekhuis, 2016

Wonderlike ware dierestories

Slyp die tande, spits die ore en krul die snorbaarde vir Wendy Maartens se boek Wonderlike ware Dierestories.

Maak kennis met Jock, die beroemdste hond wat ooit in die Bosveld gebly het. Volg Huberta die seekoei op haar verstommende staproete. Ontmoet Max die gorilla wat `n skurk vasgetrek het. En skud poot met Just Nuisance, die matrooshond wat soldate tydens die Tweede Wêreloorlog geïnspireer het. Van slim diere tot dapper diere – en selfs diere wat wêreldberoemd geword het! Die 31 stories in hierdie bundel sal jou met nuwe oë na ons geveerde en vierpotige vriende laat kyk.

Hierdie boek is`n heerlike leeservaring.” ~ Jaco Jacobs

Hierdie is nou regtig ‘n lekker boek om vir kinders te gee om te lees- diere hou nou maar eenmaal ‘n spesiale bekoring vir die meeste van ons in; en waar hierdie nou WARE stories is oor diere wat werklik gebeur het, maak dit die boek soveel te meer interessant. Just Nuisance is die seemanne se hond wat my altyd bekoor; wat van ‘n perd wat kan lees en tel, ‘n troetelslang wat ‘n dief geflous het; die dapper Jock van die Bosveld; ‘n beer wat soldaat word; ‘n gorilla wat ‘n skurk vang en dan lees ons selfs ook van beroemdes en hulle troeteldiere. ‘n Bronnelys word aangeheg. Regtig ‘n nuttige en leersame en lekker-lees boek!
Lorna Gericke

Wendy het hoog en diep gesoek na stories om die belofte van die titel, “wonderlike ware stories” gestand te doen. Om die boek te lees is soos om grondboontjies te eet. Jy is altyd lus vir nog meer.
Solette Scheeres in Maandblad Zuid-Afrika

 

Illustrasies deur Johann Strauss

Lapa Uitgewers, 2013 – 2021

Nicole en Appelliefie – Die heel beste geskenk

Pappa neem vir Nicole stad toe om haar verjaarsdag te vier. Hy koop vir haar blinkertjie-sandale en ‘n ballon, en dan gaan eet hulle roomys by die fontein. Hier ontdek hulle ‘n beseerde gansie en neem haar saam huis toe. Al die bure help om die gansie gesond te kry en sommer gou kruip Appelliefie diep in almal se harte.

Maar op ‘n dag is Appelliefie skoonveld.

Nicole voel of haar hart wil breek.

Sal sy Appelliefie ooit weer sien?

Ook beskikbaar as e-boek

 

Illustrasies deur Yolandi Prins

Pan Macmillan Kinderboeke, 2020

Nicole en Appelliefie – Die nuwe maat

Nicole en Pappa is mal oor hulle nuwe buurt en hulle het reeds ‘n klomp vriende gemaak, maar Nicole het steeds nie ‘n BESTE maat nie.

Dan kom Zintle huis toe vir die skoolvakansie. Al is sy blind, kan sy ‘n klomp dinge self doen.

Met Pappa se hulp bou die twee maats vir Appelliefie ‘n dam. Maar dan kry hulle stry, en asof dit nie genoeg is nie, is daar ook ‘n droogte in die land.

Sal hulle weer maats kan wees en hoe gaan hulle genoeg water kry om die dam vol te maak?

Ook beskikbaar as e-boek

 

Illustrasies deur Yolandi Prins

Pan Macmillan Kinderboeke, 2020

Kerneels en die Krismisengel

Die agtjarige Kerneels kuier graag saam met oom Sol, die veiligheidswag. Oom Sol leer hom van die Aandster en die Melkweg, Orion en die Skerpioen, en op Oukersaand wil Kerneels weet watter ster is die Betlehemster. “Ek dink hy het verskiet en in miljoene stukkies opgebreek,” sê oom Sol. “Elke stukkie het iewers in iemand se hart vasgesteek en help ons om mekaar lief te hê.”

Toe Kerneels wil weet of mens ‘n engel sal sien as jy in ‘n regte vuurpyl na die sterre toe gaan, lag oom Sol net. Maar op Kersoggend het hy ‘n verrassing vir Kerneels. Dis ‘n boodskap van ‘n engel …

Ook beskikbaar as Chris and the Christmas Angel.

 

Illustrasies deur Anneliese Voigt-Peters

Protea Boekhuis, 2017

Towertapyt

Kom reis saam op ‘n towertapyt en ontdek kinders van regoor die wêreld se gunsteling-stories.

Vind uit waarom Dassie nie ‘n stert het nie (Suid-Afrika), word opnuut bekoor deur die geliefde sprokie van Doringrosie (Frankryk), kom stap saam met die drie Rammetjies Rof oor die nare ou trol se brug (Noorweë) en vind uit wat gebeur wanneer drie blinde mans op ‘n dag ‘n olifant teëkom (Indië).

In hierdie pragtige geïllustreerde boek het die meester-storieverteller Wendy Maartens 33 klassieke stories bymekaargemaak wat al eeue lank in verskillende lande vertel word. Daar is stories uit elke uithoek van die wêreld – van Duitsland tot Denemarke, Italië tot Israel, Egipte tot Groenland.

Perfek vir voorlees of selflees. ‘n Fantastiese geskenk vir enige jong storieliefhebber!

Towertapyt word deur Lapa uitgegee.

Bybelstories vir Kinders

Wendy Maartens leef haar passie in Bybelstories vir Kinders uit deur op ‘n vars en besondere manier ‘met woorde te skilder’. Haar stories uit die Ou en Nuwe Testament help kinders om van kleins af met oorgawe te leef, onvoorwaardelik lief te hê en maklik te vergewe, net soos Christus. Dié stories maak jou opgewonde oor God, die wonderlike wêreld en sy mense. Hy is immers ‘n God van liefde, ‘n God wat glimlag en ‘n God wat vergewe. Die kombinasie van Wendy se persoonlike Bybeltaal en die moderne en kleurvolle illustrasies van Marie Prinsloo gee kinders ‘n kreatiewe en onbevange insig in geloofsfeite en vraagstukke oor die groot onbekende wêreld.

Formaat: Hardeband

Grootte: 280 x 195mm

Bladsye: 112

ISBN 978 1 43230 510 9 

Uitgewer: Penguin Random House

Waarom Kameelperd se nek so lank is en ander dierestories

Waarom lag Tarentaal so lekker? Waarom is Volstruis se nek so lank? Waarom kom Uil net snags uit? Waarom is Leeu en Vlakvark kwaaivriende? Waarom het Bobbejaan ‘n sekelstert?

In hierdie prettige storieboek vertel Wendy ‘n paar van die lekkerste volksverhale uit ons Afrika-diereryk, op haar kenmerkende toeganklike, humoristiese manier. Die 25 stories is perfek vir voorlees en selflees – en is ‘n besliste moet-hê-item op elke kind se boekrak!

Formaat: Hardeband

Grootte: 210 x 280mm

Bladsye: 106

ISBN: 978 0 7993 7397 4

Uitgewer: Lapa