Nuusblad

Kyk wie kuier in Huisgenoot!

Elna van der Merwe, redakteur van Huisgenoot se Boekeblad skryf: Wendy Maartens, die samesteller van die welkome bundel, skryf voorin hoe die gedigte wat sy as kind vir die eisteddfod moes leer haar laat besef het daar is ‘n wêreld wat groter is as Worcester. ‘n Plek wat net deur woorde ontsluit kon word.

“Ek het nie ‘n naam daarvoor gehad nie. Maar terwyl ons vir Juffrou Rina voorgedra het, kon ek dit in die vloerplanke onder my kaal voete voel. Ek kon dit in die stiltes tussen versreëls hoor. Op pad huis toe het ek so lank moontlik daaraan probeer vashou – om keer op keer uit te vind dat dit ‘n mens bly ontglip soos waterdruppels op ‘n kappertjieblaar.”

Tienie Holloway se versies is egter nie meer vryelik beskikbaar nie, daarom is dit so verblydend dat Protea Boekhuis dit goedgedink het om hierdie versamelbundel uit te gee. Wendy se wens is dat ‘n nuwe generasie deur Tienie se versies teruggelei sal word na doodgewone dinge “padkos, pantoffels wat slof, touspring, ‘n windpomp, waatlemoen, ‘n toktokkie wat klop …”

Tienie het al in 1938 begin om kinders se wêreld groter te maak met haar verse. Een van die eerstes was Die haasbekkies wat kinders tot vandag toe met slepende s’e voordra. Sy was ‘n onderwyseres wat versies begin skryf het omdat haar leerlinge met die destydse Hollandse verse gesukkel het.

Die bekende skrywer Irma Joubert is ‘n kleindogter van Tienie. So onthou sy haar: “Ons het haar Ouma Tienie genoem. Sy was ‘n voorvegter vir Afrikaans, maar sy het dit ook as haar plig gesien om ons Bosveld-spannetjie te kry om netjiese Engels te praat, netjies te sit en te weet hoe ‘n dame haar moet gedra. Sy was streng, en ons was versigtig vir haar.

“Ouma Tienie het as jong getroude vrou met twee klein dogtertjies die Eerste Wêreldoorlog in Londen deurgemaak, waar oupa Jack ‘n student was. Sy het interessante stories daaroor vertel.

“Ek moet sê haar kinderversies is regtig oulik – elkeen met ‘n storietjie en heerlike ritme. Ek was verstom oor hoeveel van haar versies steeds op kunswedstryde voorgedra word, deur veral gr. 1 tot 3’s.”

Die beste kinderverse van Tienie Holloway

Vandag is daar amper nie ‘n generasie wat nie ‘n versreël of strofe uit ‘n Tienie Holloway-vers onthou nie. Ongelukkig is haar bundels dun gesaai en nog net hier en daar op ‘n rak in ‘n plattelandse biblioteek te vinde. Met Die beste kinderverse van Tienie Holloway kan jonk en oud van voor af die vreugde van haar verse ontdek en in die proses terugkeer na die eenvoud van doodgewone dinge – padkos, pannekoek, pantoffels wat slof, touspring, ‘n windpomp, waatlemoen, ‘n toktokkie wat klop, of sommer net appelkooskonfyt op ‘n sny brood!

Illustrasies deur Alida Bothma

Protea, 2021