Ek glo in engele. Nie die vet babatjies wat op Valentynsdagkaartjies tussen rooi harte vlieg en mense met pyltjies skiet nie. Ek glo in die stil teenwoordigheid en beskerming van hemelwesens. Ek koester die stories oor engele wat my ma kleintyd vir my uit die Kinderbybel en later haar “grootmens” Bybel gelees het. (Dis dieselfde stories wat my ouma Winnie vir haar gelees het toe sy ‘n klein dogtertjie was en my oumagrootjie Nonnie weer vir my ouma Winnie.)
Hierdie stories laat my altyd spesiaal voel. Dit laat my voel die Here het ‘n spesiale plekkie in Sy hart vir my, omdat my ma, my ouma en my oumagrootjie Hom geken het. Dit laat my voel Hy luister graag na my gebede, want Hy ken die gebede van die vroue voor my.
Soms, as ek nie weet hoe om te bid nie, sit ek sommer net by die Here. Dan verbeel ek my dat Sy engele my toevou met hul vlerke. Dat Hy tot diep in my hart kyk en presies weet wat ek nodig het – al weet ek soms nie eers self wat die beste vir my is nie.
Toe ek klein was, het my ma altyd gesê: “Sus, jy is omring deur engele.”
Ek het haar geglo omdat sy my ma is. Vandag, baie jare later, glo ek dit steeds – met my hele grootmenshart!
So skryf ek in die voorwoord van my splinternuwe joernaal 𝗘𝗻𝗴𝗲𝗹𝗲 𝗼𝗺 𝗼𝗻𝘀.
Mag my woorde meisies help om op Arendsvlerke deur 2023 te vlieg.
Engele om ons ~ Alles-in-een-joernaal
Engele om ons. Engele langs ons. Engele in ons.
Engele hou wag oor jou in goeie en slegte tye.
Hulle vou hul vlerke saggies om jou en fluister dat jy geliefd en geseënd is.
Hierdie pragtige joernaal vir meisies is ‘n skatkis vol wonderlike dinge om te lees en ontdek en te doen.
Beplan jou kwartaal, skryf jou gedagtes neer en leer meer oor God en sy engele.
Illustreerder: Maggie de Vos
Lapa, 2022