Heerlike nuus so kort voor die naweek! Al vier Diere Maniere is op Nielsen se topverkoperlys. Miekie maak haar merk, sowaar nommer 1 in die kinderafdeling. Lukas laat sy lig skyn – nommer 3. Katryn kry ‘n ster – nommer 5 en Simon staan sy man – nommer 8. Nou sal ek glad nie met daardie kwaai meerkatjie kan huishou nie.
Diere Maniere
Boek 1: Lukas laat sy lig skyn
Lukas is bang vir die donker en vreemde geluide. Hy voel skaam wanneer hy nie soos sy maats op die groot wiel by die kermis wil ry nie. Met ‘n bietjie wysheid en leiding van sy pa, leer Lukas egter dat dit baie dapper kan wees om “nee” te sê. Hierdie oulike verhaal oor ‘n bang olifantjie leer kinders dat alle emosies belangrik is, en dat dapperheid vir almal anders lyk.
Boek 2: Miekie maak haar merk
Miekie is vandag kwaad. En hoe dan ook anders met ‘n irriterende boetie en maats wat haar terg. Maar Juffrou help haar op die regte pad. Miekie verf ‘n pragtige muurskildery wat nie net die skoolmuur ophelder nie, maar ook haar bui. Hierdie oulike verhaal oor ‘n vurige meerkatjie leer kinders dat alle emosies belangrik is. Die belangrikste is egter ons reaksie op hoe ons voel.
Boek 3: Simon staan sy man
Simon is hartseer omdat sy beste maat moes wegtrek. Hy is ook hartseer toe sy hondjie doodgaan en hy by die skool geboelie word. Met Mamma se hulp leer hy egter dat mens glad nie skaam hoef te voel om te huil nie. Wanneer hy ‘n nuwe stokperdjie kry, begin Simon sterker en minder alleen voel. Hierdie oulike verhaal oor ‘n hartseer leeutjie leer kinders dat alle emosies belangrik is, en dat moeilike situasies ons kan help om ons innerlike krag te ontdek.
Boek 4: Katryn kry ‘n ster
Dit is Katryn se eerste dag by die nuwe skool. Sy voel bang en onseker, maar maak gou nuwe vriende. Katryn deel haar toebroodjies met ‘n klasmaat en red ‘n verskrikte duif. Hierdie oulike verhaal oor ‘n vriendelike en behulpsame sebratjie leer kinders dat alle emosies belangrik is, en dat ons in enige situasie empatie en respek kan betoon.
Ook in Engels beskikbaar as Furry Feelings.
Illustrasies: Alistair Ackermann
Pan Macmillan, 2024