Wendy Maartens - Die Wandelende Geraamte
Nuusblad

Die Wandelende Geraamte en ander Spookstories op RSG!

Heerlik! Heerlik! Heerlik! Dis wanneer oustories waaraan ek baie hard gewerk het die mense bereik vir wie ek dit gedoen het.
Dis presies wat Dinsdagaand om 21:40 gebeur wanneer die eerste storie uit Die Wandelende Geraamte en ander spookstories van C.J. Langenhoven in Kortom op RSG uitgesaai word.
Langenhoven het die stories oorspronklik vir volwassenes geskryf. Nadat ‘n bibliotekaresse my vertel het dat kinders ‘n ou flenterbundel uit die volwasse afdeling na die kinderafdeling smokkel om stilletjies daar te lees, het ek gewéét die tyd is reg om hierdie stories van 100 jaar gelede vir vandag se kinders te verwerk.
Kort daarna gee ‘n vriendin my ‘n ou stel van Langenhoven se Versamelde Werke present sonder dat sy geweet het wat ek beoog!
Protea Boekhuis het ingestem om die manuskrip te publiseer en die formidabele Marjorie Van Heerden genader om die illustrasies te doen.
As jy ooit gewonder het of ‘n boek ‘n lewe van sy eie het…
Sien jou Dinsdagaand!
🌿❤️🌿
Beskikbaar by boekwinkels en aanlyn.

Die wandelende geraamte en ander spookstories van C.J. Langenhoven

“Ek was mal oor spoke.

Eintlik was ek ‘n soort spookwetenskaplike.

Oral waar ek gekom het, het ek spookstories bymekaar gemaak.

En nou is ek self ‘n spook … kan ‘n mens so gelukkig wees?”

~ C.J. Langenhoven

Hierdie bundel met 15 spookstories het ontstaan na aanleiding van ‘n gesoute bibliotekaresse se vreugde oor kinders wat ‘n ou hardebandbundel met Langenhoven se spookstories uit die grootmens-afdeling smokkel om in die kinderafdeling voos te lees… Die spookverhale is versigtig uitgekies en hervertel om by die oorspronklike teks aan te sluit, en terselfdertyd ook tot die kind van vandag te spreek.

In die voorwoord vertel Wendy van haar eie wedervaringe tydens die herskryf van die stories.

Daar is ook praktiese wenke vir ouers en onderwysers.

Marjorie van Heerden se illustrasies dra by tot ‘n onvergeetlike ervaring!

Illustreerder: Marjorie van Heerden

Protea, 2022