Wie is Wendy?

Wendy Maartens is ‘n skrywer, openbare spreker en versamelaar van eg Suid-Afrikaanse volksverhale, legendes, rympies en ware stories.

Sy leef in verwondering oor die krag van woorde, die blou-blou see en die mandjie stories wat elke mensekind saamdra.

Wendy put inspirasie uit die eenvoud van haar onmiddellike omgewing. Daarom is sy so lief vir Tafelbaai, die Weskus en die Overberg waar die stories van lank gelede laag op laag soos ‘n skulpmied lê.

Haar grootste droom is dat gesinne weer tyd sal maak om die stories van hul komvandaan om die etenstafel te koester. Dat elke dorp weer ‘n storieverteller sal hê wat laatmiddag op die dorpsplein stories uit die omgewing vertel. Maar bowenal dat ons sal leer om stilte die praatwerk te laat doen sodat ons kan onthou dat ons almal deel van dieselfde universele verhaal is.

Wat doen Wendy?

Wendy het remediërende onderrig aan die Onderwyserskollege Oudtshoorn gespesialiseer en 22 jaar lank vir meestal graad 3’s skoolgehou. Sy het in 2006 bedank om voltyds te skryf.

Wendy het 80 kinderboeke op haar kerfstok. Haar eerste kinderboek Lena se bottelboom was op Exclusive Books se Publisher’s Choice-lys, het eervolle vermelding by die Noma Awards for Publishing in Africa gekry en was ‘n ATKV-Veertjie finalis. Haar werk is in vyf inheemse tale vertaal.

Wendy het 3 jaar lank as beoordelaar van Media 24 se M.E.R.-boekprys vir jeugliteratuur opgetree. Sy was boekredakteur van die tydskrif Lééf en skryf tans die agterbladrubriek. Sy is as ATKV Veertjie-finalis in dié afdeling benoem. Wendy lewer ook rubrieke vir Die Burger.

Haar verhale word gereeld in skoolhandboeke opgeneem en oor RSG voorgelees. Sy skryf ook geestelike boeke en het haar onderwyservaring ingespan om die Ek lees self-reeks vir beginnerlesers te skryf.

Wendy beleef elke dag, elke boek, uitgewer, illustreerder en leser as ‘n geskenk uit haar Vader se hand.

Maak gerus kontak om Wendy as spreker by jou volgende leeskring of damesoggend te bespreek.

Stuur gerus ‘n boodskap of navraag oor haar boeke en optredes.