Voorwoord
My ma het altyd gesê: “Môre is ‘n nuwe dag!” Veral wanneer ek so met die verpligte huishoudkunde in st. 6 en 7 gestoei het … my rotskoekies wás rótskoekies!
Die afgelope paar maande het Ma se sêding my motto geword. Dit spoor my van nuuts af aan om nie deel van die “rat race” te wees nie. (Die rotte wen in elk geval altyd.) 😉 Daarom probeer ek steeds om stiller en stadiger te leef. Ek kyk steeds nie TV nie. Luister nog na my fm’pie en verkies meestal die gekwetter van die mossies en die geruis van my geliefde groot blou dam. (Mag die vrolike gesels van vriende om ‘n langtafel binnekort weer deel van my wêreld wees.) En ek probeer my bes om volkome in elke oomblik teenwoordig te wees.
Dit klink so eenvoudig, maar bly seker ‘n mensekind se grootste uitdaging om nie tienduisend dinge gelyktydig te wil doen nie. Daarom wens ek jou in hierdie nuwe jaar die vrede toe om elke oomblik volkome te beleef soos hy aan jou deur klop.
Soos nét jy kan – op jou eie, unieke manier!
Liefde
Wendy ❤️